Nuusbrief #3 - 2018

21 December 2018 by

Aan al die lede van “Meat of Origin Karoo”

Beste, die jaar 2018 is amper op ’t einde en ons wil met hierdie finale nuusbrief van 2018 lede van die Karoo Lam Sertifisering skema graag op hoogte bring van die jongste nuus en ook terugvoering gee uit die Algemene Jaarvergadering van MOOK.

Die Direksie wil weereens alle lede bedank vir hul getroue ondersteuning en bydrae om MOOK en die meegaande sertifisering skema ‘n sukses te maak. 

Ons wens almal ‘n goeie feestyd toe en ons vertrou dat die nuwe jaar goeie en wydverspreide reën vir die Karoo sal bring. 

Vriendelike groete

Johann Kirsten

BESLUITE GENEEM BY MOOK SE ALGEMENE JAARVERGADERING (19 OKTOBER 2018)

Die 4de algemene jaarvergadering van die lede van “ Meat of Origin Karoo” is gehou op 19 Oktober 2018 in die Williston Gholf Klub. Die vergadering is goed bygewoon en benewens die normale regulatoriese en administratiewe aspekte soos notules en finansiële state is die volgende belangrike besluite geneem:

  1. Die begroting vir 2019 is goedgekeur met begrote inkomstes van R339 000 en verwagte uitgawes van R309 000 vir ‘n surplus van R30 000
  2. Om die begroting te laat klop het lede ‘n voorstel van ledegelde van 20 sent/ha vir 2019 aanvaar. Die ledegelde vir kleinhandelaars en verpakkers is onveranderd gehou.
  3. Finansiële State vir 2017/18 is goedgekeur met ‘n voorstel vir aansuiwerings insake die ledegeld inkomste wat vir 2018/19 as voorsienings uit die inkomste staat gehaal moet word.
  4. Die huidige direksie, sowel as die ouditeure, is vir nog ‘n termyn aangestel.
  5. ‘n Voorstel dat MOOK by boere-unies moet affilieer is deur die vergadering aanvaar. Na afloop van die vergadering het AGRI NOORD-KAAP ‘n uitnodiging aan MOOK gerig om eerder by hulle te affilieer. Die direksie het die uitnodiging aanvaar en daardeur is MOOK nou regstreeks deel van georganiseerde landbou en sal sitting op streeks en provinsiale kongresse hê.
  6. Die vergadering word deur Dr Anton Binneman van die SKA bygewoon en daar is ‘n moontlikheid dat die SKA met MOOK sal saam werk om die bemarking van ‘gesertifiseerde’ Karoo Lam te bevorder. ‘n Voorstel vir samewerking en finansiële ondersteuning is na afloop van die vergadering aan die SKA deurgestuur. Ons wag nou vir terugvoering.
  7. Die vergadering is in kennis gestel dat Williston en Carnarvon die regte ‘gesertifiseerde bokse’ beskikbaar het waarin lede hul privaat slagtings van Karoo Lammers kan bemark. Die vergadering word weereens daarop gewys dat slegs karkasse wat van gesertifiseerde plase kom en behoorlik by die abattoir geverifieer is en via die stempel en roller merk gesertifiseer is, in die bokse verpak mag word.
  8. Die vergadering versoek die Direksie om kommunikasie vanaf MOOK se kantoor ook per ‘whatsapp’ aan lede te stuur. Hierdie nuusbrief sal die eerste probeerslag in die verband wees.
BEVESTIGING VAN DIE REËLS VAN DIE “KAROO MEAT OF ORIGIN” SERTIFISERING SKEMA

Dit is seker nou welbekend dat die KMOO sertifisering skema daargestel is om die naam “Karoo Lam” se waarde en reputasie te beskerm en te verhoed dat die naam misbruik word of vervalste produkte bemark word en lei tot verwatering van die intrinsieke waarde van die Karoo lam produk. Dit is ‘n nis produk wat streng gesproke teen ‘n premie bo ander skaapvleis produkte verhandel. Daarom is bestuur van die integriteit en waardes onderliggend aan ons skema so belangrik. 

Die direksie versoek dus weereens dat lede hul vergewis van al die reëls van die skema soos op die webwerf beskikbaar gemaak. ‘n Kern aspek van die skema is bevestiging van die oorsprong van vry lopende diere in die Karoo veld. Vir hierdie rede moet alle plase/boere, abattoirs en verwerkers en kleinhandelaars by die skema geregistreer wees om die naspeurbaarheid van die produk in stand te hou. 

Aangesien die lede van die skema self vir die ouditeuring en behoud van die naam van Karoo Lam verantwoordelik is, en die kostes daarvan self moet dra, is dit noodsaaklik dat ledegelde gewerf moet word.  Voortspruitend hieruit is dit dus logies dat slegs opbetaalde lede die voordele van die skema (in terme van premies) kan ontvang. Vir hierdie rede hou ons ‘n databasis van opbetaalde lede by en gebruik die abattoirs dit streng om kwalifiserende diere by boere te werf. Hierdie is ‘n kritiese instrument en praktyk om te verseker dat die integriteit van die sertifisering skema goed bestuur word. 

Ledegelde word gewoonlik in Februarie/Maart vir die betrokke kalenderjaar ingevorder met die idee dat slegs lede wat opbetaald is vir die res van die jaar die voordele van die skema kan geniet. Lede wat wel in vroeëre jare gesertifiseer was en ook ‘n registrasienommer ontvang het kan egter nie kwalifiseer vir die voordele indien ledegelde nie op datum is nie

Dit is vir hierdie rede dat die direksie alle lede (boere, kleinhandelaars, ens.) vriendelik versoek om te verseker dat hul ledegelde opbetaald is teen einde Maart sodat hulle vir die res van die jaar die voordele kan ontvang. Die fakture vir die 2019 ledegelde sal op 1 Februarie 2019 uitgestuur word met afsnydatum vir betaling van 31 Maart 2019. Hierna sal die lys van opbetaalde lede/plase aan SAMIC oorhandig word vir die jaarlikse ouditering van plase, abattoirs en kleinhandelaars. Om rekordhouding en identifikasie van opbetaalde lede te vergemaklik sal ons ‘n klein verandering in die registrasie nommers van die gesertifiseerde plase aanbring. Die nommer [ 19 ] sal nou vooraan kom om die  identifikasie van opbetaalde lede in 2019 deur die abattoir personeel te vergemaklik. So byvoorbeeld sal die nommer van 2014/123/01 verander na 19/2014/123/01. Vir die doeleindes van naspeurbaarheid op die webwerf en vir aanduiding op etikette en bokse sal die gedeelte van die nommer na die ‘19’ gebruik word: 2014/123/01.

Dit is ook belangrik dat lede verseker dat aansoekvorms deeglik en volledig ingevul word en dat lede ook deurlopend verseker dat hul inligting (foto’s/stories) oor die plase wat geregistreer is, volledig is. Dit is belangrik vir die kleinhandelaars en verbruikers wanneer hulle die produk via die webwerf na speur en meer oor die plaas wil uitvind.

KAROO MEAT OF ORIGIN KLERE

Albertus Erasmus het baie moeite gedoen om gholf hempies en pette met die KMOO logo te ontwerp. Sien die voorbeelde hieronder. 
Enige iemand wat belangstel om van die klere te bestel kan gerus met Albertus kontak maak by: ae@eproc.co.za

AFSLUITING

Ten slotte wil die Direksie weereens alle lede bedank vir hul getroue ondersteuning en bydrae om MOOK en die meegaande sertifisering skema ‘n sukses te maak. 

Ons wens almal ‘n goeie feestyd toe en ons vertrou dat die nuwe jaar goeie en wydverspreide reën vir die Karoo sal bring. 

Vriendelike groete, Johann Kirsten, Voorsitter: Meat of Origin Karoo


Share this post