OCTOBER 2020
Die jaar 2020 sal seker eendag bekend staan as een van die mees ontwrigtende jare in dekades weens die gevolge van die COVID-19 pandemie. In die Karoo was die effek van die pandemie waarskynlik nog erger omdat dit plaasgevind het in die middel van die voortslepende droogte. Die ekonomie van die streek beleef dus ‘n ernstige resessie nie alleenlik weens die droogte nie, maar ook voortspruitend uit die pandemie se impak op die vraag na vleis, onderbreking in wolveilings en ‘n afname in toerisme en besoekers aan Karoo dorpe. Dit bring groot ekonomiese uitdagings vir boere en sake-ondernemings in die Karoo teweeg en gevolglik is baie meer van ons Karoo werknemers sonder werk en is armoede en honger ‘n groot realiteit.
In hierdie nuusbrief wil ons graag die lede op hoogte bring met die jongste verwikkelinge rondom die Karoo Lam GI, die naamsverandering van MOOK, die status van die Karoo Lam sertfiseringskema en die nuwe administratiewe dispensasie van die skema.
Johann Kirsten
Voorsitter: Karoo Lamb Konsortium
The Karoo Lamb Consortium (NPC)
Registration Number: (2012/078056/08)
Address P.O. Box 241, Clanwilliam, 8135
Directors: S.A. du Toit; A.R. Steenkamp; A.D. Erasmus; D.J. Sacco; E.N. Ralehoko; D.J. Franken; A.H. Hartman; W.J.C Reitz; D.B. Terblanche; R.R Boon; F.P.R van Wyk; J.F. Kirsten
Karoo Lam Geografiese Indikator (GI) aansoek
Soos lede bewus was het die proses om Karoo Lam wetlik te beskerm laas jaar (Maart 2019) momentum gekry met die publikasie van die regulasies vir die beskerming van GIs in die Staatskoerant. Karoo Lam was die eerste produk wat vir hierdie beskerming aansoek gedoen het. Die aansoek het kommentaar uit verskeie oorde ontlok van mense wat met die proses verskil en nie begryp het dat die GI registrasie tot almal se voordeel is om die reputasie en ‘resep’ van Karoo lam te beskerm nie. In ‘n poging om alle beswaardes tegemoet te kom en mense se vrese te besweer, is ‘n reeks gesprekke in die laaste kwartaal van 2019 gefasiliteer. Die Departement van Landbou het aan die einde ook versoek dat ‘n vergadering van belanghebbendes in die Karoo gehou word om die weg te baan vir ‘n gewysigde aansoek.
Hierdie vergadering van belanghebbendes, insluitend lede van MOOK, abattoirs in die Karoo, en kleinhandelaars het plaas gevind by die De Aar Gholfklub op 28 Februarie 2020. By hierdie vergadering is die reëls vir die produksie, slag en bemarking van Karoo lam weereens vasgelê en eenparig aanvaar vir insluiting in die GI se regulasies. Die vergadering het ook besluit om die samestelling van MOOK te verander en dit te herinkorporeer as “The Karoo Lamb Consortium” met breër verteenwoordiging uit die Karoo gemeenskappe om die voorgenome GI van Karoo Lam te bestuur en te administreer.
Gebaseer op die mosies wat eenparig op die vergadering van 28 Februarie 2020 aanvaar is, het die nuut gestruktureerde organisasie die aansoek opnuut op 27 Julie 2020 aan die Departement van Landbou voorgelê. Die Departement van Landbou het al die fasette van die aansoek deeglik bestudeer om seker te maak dat al die wetenskaplike bewyse ter ondersteuning van die aansoek in plek is. Die Departement se amptenare (saam met SAMIC) het ook so ‘n paar weke gelede die Karoo besoek om ter plaatse verkenning te doen om hulself te vergewis van die toepaslikheid van die reëls van die Karoo Lam GI. Nadat al die bewyse in berekening gebring is, het die Departement sy voorneme om die Karoo Lam GI te registreer in die Staatskoerant van 9 Oktober 2020 gepubliseer. Dit is nou oop vir kommentaar vir ‘n periode van 30 dae.
Naamsverandering van MOOK en die stigting van die Karoo Lam Konsortium
Soos genoem, het die lede op die vergadering van 28 Februarie 2020 gestem ten gunste van herstrukturering en naamsverandering na “Karoo Lamb Consortium” – hoewel die maatskappy se nommer, bankrekening en BTW nommer alles dieselfde bly.
Die daarstelling van die GI is gemik op die beskerming van die gesamentlike intellektuele eiendom van die Karoo – m.a.w. die resep (reëls) wat die uniekheid en reputasie van Karoo Lam verseker. Hierdie intellektuele eiendom wat oor dekades vasgelê is, is die eiendom van die inwoners van die Karoo – insluitend boere en abattoirs wat die produk se identiteit en reputasie handhaaf. Daarom moet die bestuur van die reëls uit ‘n breë spektrum van inwoners en belanghebbendes getrek word en is die naam “Karoo Lamb Consortium” dus uiters gepas.
Die konsortium bly geregistreer as ‘n maatskappy sonder winsbejag en die lede sluit in:
- Geregistreerde skaapboere geleë in die Karoostreek
- Geregistreerde abattoirs in die Karoo
- Geregistreerde vleis verwerkers/verpakkers en slagters wat Karoo Lam bemark en met sterk verhoudings met Karoo abattoirs
Lidmaatskap van die konsortium is oop vir alle Karoo skaapboere wat hul vee op natuurlike Karoo veld laat wei. Karoo abattoirs, kleinhandelaars en verwerkers wat deel is van die Karoo lam waardeketting kan ook geregistreerde lede wees. Die lede moet jaarliks vergader om finansiële state goed te keur en besluite oor die produksie en bemarking reëls te neem en ook die direkteure te verkies. Op die vergadering van 28 Februarie 2020 is die volgende 12 lede dus op die nuwe direksie verkies:
Boere verteenwoordigers:
- Brand du Toit (Williston)
- Bertus Steenkamp (Carnarvon)
- Albertus Erasmus (Carnarvon – en maatskappy sekretaris)
- Dirk Sacco (Carnarvon)
- Enoch Ralehoko (Beaufort-Wes)
- Frans van Wyk (Fraserburg)
Abattoir verteenwoordigers
- Danie Franken (Carnarvon Abattoir)
- Coetzee Reitz (Williston Vleis Koöperasie)
- Danie Terblanche (SAFAM abattoir, Beaufort-Wes)
Verwerkers/verpakkers
- Andries Hartman (Hartman’s slagtery, George)
- Ryan Boon (Ryan Boon Speciality Meats, Paarl)
Verteenwoordiger van die “Karoo Development Foundation”
- Prof Johann Kirsten (boer naby Williston – Voorsitter)
Die nuwe maatskappy naam, nuwe direkteure en nuwe mandaat en akte van oprigting was teen 6 Augustus 2020 amptelik by CIPC geregistreer en goedgekeur. In kort is die mandaat van die konsortium as volg:
- it will define the rules for the production and slaughter of “Karoo Lamb” by establishing the specifications and rules of compliance and submit any changes to the Executive Officer: Agricultural Product Standards for approval;
- it shall be the holder of the meat stamp “Certified Karoo Meat of Origin” and the roller mark inserts “CERT KMOO” to be used to identify carcasses complying with the “Karoo Lamb” GI specifications;
- it shall be the only entity authorized to issue the labels and certification marks to signal the Karoo Lamb GI;
- it shall order the withdrawal of the roller marks and stamps in case member abattoirs do not comply with the rules of the Karoo Lamb GI;
- it shall implement actions to protect, control and safeguard the rules of the “Karoo Lamb” GI at each stage of the supply chain: rearing of sheep on Karoo veldt, slaughtering at abattoirs, its processing, as well as packaging and trading of the different lamb cuts and products;
- it shall implement actions to promote Karoo Lamb amongst consumers and retailers;
- it shall ensure that no other product bears names, marks and/or other distinctive marks that could breach the Karoo Lamb GI and mislead consumers and damage the reputation and image of Karoo Lamb;
- it shall verify that the quantity of approved Karoo Lamb carcasses produced and sold by consortium members are equal to the quantity sold in the retail.
Uit die aard van die saak is beskerming – net soos die geval met versekering en bemarking - nie kosteloos nie en sal die konsortium finansieringsbronne moet ontgin. Net soos by ‘n gholfklub, sal daar van lede verwag word om ‘n aansluitingsfooi te betaal en daarna hulle jaarlikse lidmaatskapsfooie of ledegeld. Hierdie ledegeld dek alle ouditfooie, bemarkingskoste en algemene bestuurskoste van die GI. In ruil hiervoor kry lede die reg om hul eie Karoo Lam te bemark en vrylik die term Karoo Lam te gebruik. Verder word lede beskerm teen nabootsers en slagters en kleinhandelaars wat lam uit ander gebiede en uit voerkrale verkoop as Karoo lam. Oor tyd sal hierdie proses daartoe lei dat die premie vir Karoo lam baie hoër sal wees as daardie lam wat na niks smaak nie!
Karoo Lamb Consortium Open
Nuwe Administrasie Kantoor
Na vele oorwegings is daar besin om ‘n nuwe administrasie kantoor met personeel te vestig. ‘n Nuwe liassering stelsel is in plek gestel, data is aangelê en ‘n rekenaar is geprogrammeer ten einde administratiewe funksies so goed as moontlik te sentraliseer. Alle prosesse rakende die uitreiking van sertifikate, hantering van lede administrasie asook boekhouding daarvan op die Quickbooks databasis sal deur die nuwe kantoor onder Charles Erasmus se beheer, hanteer word. Die nuwe kantoor sal ook alle bemarking, advertering en alle beplanning in die spesifieke gebied hanteer. Van die bemarkingsmateriaal sal beskikbaar wees vir diegene wat belangstel om die mooie Karoo Lam se naam wyd en syd te versprei. Die toegedeelde personeel betrokke by die konsortium-kantoor sal ook alle webwerf funksies hanteer. Dit sluit in alle skakeling met web konsultante asook “real time” opdatering van die ledelyste. Die beskerming van lede besonderhede asook data blootstelling sal ook aandag geniet. Die kantoor is tans nog in die proses van opleiding en oorhandigings en lede se geduld en samewerking sal waardeer word.
Kontak gerus ons nuwe kantoor by 066 3176593 of deur epos info@karoomeatoforigin.com
Karoo lam sertifiseringskema: Oorsig van lede en Karoo lam slagtings
Tot tyd en wyl die GI formeel geproklameer word bly die sertifiseringskema : “Certified Karoo Meat of Origin” nog voortbestaan as die plekhouer vir die GI en verskaf nog steeds vir Karoo boere en Karoo abattoirs die geleentheid en raamwerk om wettig Karoo Lam te bemark. Die konsortium gaan dus voort om die sertifiseringskema te bestuur. Die direksie is daarom ook baie bemoedig dat lede voortgaan om die skema te ondersteun en ledegelde te betaal. Die huidige statistiek van opbetaalde lede is as volg:
Abattoirs [ 3 ]
- Carnarvon abattoir
- Gariep abattoir (Strydenburg)
- Williston abattoir
Boere [ 86 ]
Plase [ 163 ] plase met ‘n totaal van 760 000 ha
Slagters/Verspreiders [ 11 ]
Gedurende 2019 het hierdie boere, abattoirs en kleinhandelaars ‘n totaal van 16 869 gesertifiseerde Karoo lam karkasse bemark - ongeveer 1 400 per maand. In die lig van die droogte en die groot aantal boere wat geen lam uit die veld kon bemark nie, bly dit darem ‘n noemenswaardige prestasie. Die jaarsyfer is weliswaar laer met ongeveer 2 500 maar dit was te wagte.
Met die dubbele impak van die droogte en die effek van die COVID-19 pandemie is ‘n verdere vermindering in die verkoopsyfers ‘n groot waarskynlikheid. Jaar tot datum se gemiddelde maandelikse slagtings/verkope beloop slegs sowat 800 karkasse per maand – heelwat laer as die maandelikse gemiddelde van 2019. Weereens ‘n duidelike illustrasie van die skade in die Karoo se ekonomie as gevolg van die pandemie en die voortslepende droogte.