Karoo Lam Nuusbrief 2025

10 December 2025 by
Charles Erasmus

Beste lede en vennote


2025 was ’n mylpaaljaar vir die Karoo Lam GI. Met die ondersteuning van die Franse GI-fonds kon ons die administrasie, naspeurbaarheid en bemarkingswerk vir Karoo Lam tot ’n nuwe vlak neem. Ons is ook vereer met die Western Cape Innovation Award vir die werk rondom die Karoo Lam GI – ’n bewys dat hierdie stelsel nie net vir die Karoo uniek is nie, maar ook as voorbeeld dien vir ander landbou-waardekettings.


Dankie aan elke boer, abattoir, verpakker, slagter en kleinhandelaar wat deur hul lidmaatskap en praktiese ondersteuning help om die Karoo Lam-verhaal aan verbruikers te vertel.

Prof. J Kirsten ontvang die Wes-Kaap Innovasie-toekenning namens die Karoo Lam Konsortium


Twee onlangse studies van die Universiteit Stellenbosch, onder leiding van prof Phillip Strydom, het bevestig wat baie van ons lankal vermoed: egte Karoo Lam wat op natuurlike veld wei, het sowel ’n unieke geur as ’n gunstiger voedingsprofiel as voerkraallammers.


  • In baie eenvoudige terme:
    • Gunstiger vetsuurprofiel: Lammers wat op Karoo-veld grootword, het ’n laer omega-6 : omega-3 verhouding, nader aan wat vir menslike gesondheid aanbeveel word. Voerkraallammers toon hoër omega-6, wat met inflammasie geassosieer word.
    • Egte Karoo-geur en -smaak bly behoue op veld: Die studies wys dat "zero-grazing" in ’n voerkraalsisteem vir 21–28 dae die tipiese “Karoo bossie”-aromas en -smake beduidend verswak, selfs al was die diere vroeër op veld.
    • Aanvulling op veld kan werk – mits reg gedoen: Waar veldtoestande moeiliker is, kan boere strategies aanvul met ’n graan/lusern-rantsoen, maar die lammers moet steeds toegang tot Karoo veld hê en teen ±40 kg lewendig geslag word om die regte vetbedekking en Karoo-geur te behou. Te ligte slaggewigte (±30 kg) lei tot te min vet en verdunde geur.
    • Kleur en rakstabiliteit: Vleis van lammers wat Karoo-struike vreet, wys beter kleurstabiliteit tydens raklewe – waarskynlik weens natuurlike antioksidante in die veld.


Kort gesê: Karoo Lam op veld, met verantwoordelike aanvulling indien nodig, is nie net smaakliker nie, maar ook gesonder vir die verbruiker.


Om die GI-status by die verbruiker uit te dra, gebruik ons amptelike Karoo Lam-etikette:


  • In 2025 is 100 000 etikette in omloop geplaas;
  • Nog 50 000 etikette is reeds gedruk en beskikbaar vir bestellings.


Hoe werk die etikette vir ons slaghuise, verskaffers en aanlyn verskaffers?


    1. Registrasievereistes: Produsente moet geregistreer wees by KLC. Daarbenewens moet enige entiteit wat Karoo Lam wil bemark, insluitend aanlynwinkels of kleinhandelaars, afsonderlik geregistreer wees as 'n "verskaffer/kleinhandelaar." Hierdie stelsel verseker naspeurbaarheid en maklike bestuur van die GI-status.
    2. Gebruik van die GI-logo: Wanneer geregistreerde produsente Karoo Lam privaat bemark, moet hulle registreer as 'n aanlyn verskaffer en die amptelike GI-logo altyd sigbaar wees. Die logo bevestig die oorsprong en egtheid van die produk.
    3. Naspeurbaarheid: KLC het unieke Karoo Lam GI-etikette ontwikkel wat nie net naspeurbaarheid verseker nie, maar ook ’n kragtige bemarkingsimpuls aan die produk gee.



(Bydrae: Brand du Toit, Direkteur)


Karoo-lamsvleis se unieke eienskappe en unieke smaak word baie gereeld op die radio, televisie en in die gedrukte pers verkondig, maar om jou kliënte aan te haak by jóú handelsmerk of jou unieke produk verg ’n bietjie meer persoonlike aandag.


Met sy breë bewusmakingspogings sorg die Karoo Lam-konsortium dat soveel as moontlik elke skaapvleisverbruiker in die land weet watter gehalteproduk Karoo Lam is. Om jou eie lammers by ’n spesifieke mark uit te bring, verg doelgerigte pogings om kliënte te werf wat van jou produk hou en dit kan bekostig. Die belangrikste is dat jy jou kliënte op ’n deurlopende basis moet kan diens met ’n gewaarborgde gehalte-eindproduk.


Bykans al my kliënte hoor van my deur mond-tot-mond-bemarking. Ek maak ook kosteloos gebruik van kennisse en vriende vir bemarking van my vleis. Vir die verpakking en aflewering maak ek gebruik van Ryan Boon in die Paarl. Ryan Boon se verwerkingsfasiliteit is geregistreer as ’n goedgekeurde Karoo Lam-fasiliteit. Ryan het sy eie afleweringsnetwerk in die Skiereiland wat sorg dat die eindproduk betyds, met ’n gewaarborgde koueketting, by die kliënt se huis afgelewer word.


Ek laat ook buite die Skiereiland aflewer, tot so ver as Stilbaai, deur van ’n koerier gebruik te maak. Ek maak spesifiek van Ryan gebruik vanweë sy hoëwaarde-verpakking – met ander woorde, die eindproduk vertoon mooi. Verder het hy altyd Karoo Lam beskikbaar, so indien ek nie self lammers op ’n gegewe tydstip kan lewer nie, kan ek by hom kry om in die vraag te voorsien en die kliënt tevrede te hou.


Boere moet besef dat jy, om ’n gehalteeindproduk aan te bied vir jou kliënte, jou vennote baie noukeurig moet kies. Om self by versnitting en verpakking betrokke te raak, klink maklik, maar boere moet hul somme mooi maak indien hulle daardie roete wil volg. Die regte koelfasiliteite is duur, wat oorhoofse koste op die lang duur onbekostigbaar kan maak indien die minimum kritieke volume nie gehandhaaf kan word nie.


(Bydrae: Helmut Drewes, Agrista)


In 2026 loods Landbouweekblad ’n nuwe B2B-markplein, Landbou24, waar produsente en rolspelers in die landboubedryf mekaar direk kan vind en sake kan doen. Die Karoo Lam Konsortium het met Landbouweekblad saamgespan om produkte van Karoo Lam-verpakkers en boere wat direk wil verkoop, op hierdie platform te lys.


Benewens die B2B-markplek sal Landbouweekblad ook belê in die bou van ’n toegewyde e-handelswinkel vir Karoo Lam, waar dieselfde produkte direk aan verbruikers bemark en verkoop kan word. As deel van die Media24-groep sal hulle bemarking ondersteun met advertensieveldtogte via geaffilieerde televisiekanale en tydskrifte, wat die sigbaarheid van Karoo Lam landswyd aansienlik kan vergroot.


Boere en verwerkers wat belangstel om hul Karoo Lam-produkte op Landbou24 te lys, word genooi om direk met Landbou24 in verbinding te tree:



Hierdie samewerking skep ’n belangrike nuwe kanaal om egte Karoo Lam nader aan beide die handel én die eindverbruiker te bring.

Met die hulp van die Franse GI-fonds en ons ontwerpspan is daar nou verskeie bemarkingsmateriaal beskikbaar vir geregistreerde kleinhandelaars en restaurante, insluitend:


  • A3- en A4-plakkate
  • Toonbank- en rakstrokies (“shelf talkers”)
  • Digitale prente en templates vir sosiale media bv. Facebook, met gepaardgaande beskrywings wat verduidelik wat die GI wel beteken


Indien jy nog nie hierdie pakket ontvang het nie, stuur asseblief vir ons ’n kort e-pos, noem jou lidmaatskapnommer en tipe besigheid (slagter, aanlynwinkel, restaurant, ens.), dan stuur ons vir jou die toepaslike lêers.

Oor die afgelope drie jaar het die Karoo Lam Konsortium, met behulp van die Franse fondse, die fondasie gebou om die Karoo Lam GI tot volwassenheid te bring. Ons het nou wetenskaplike bewyse dat Karoo Lam anders smaak én gesonder is as lam wat in voerkrale of op aangeplante weidings afgerond is. Die ouditproses is vereenvoudig, die naspeurbaarheid- en registrasiestelsel vir boere is gevestig, en daar is ’n volledige stel bemarkingsmateriaal en etikette ontwikkel om Karoo Lam-verpakking duidelik te merk.


Rolmerke is beskikbaar by al die geregistreerde abattoirs, en boere en kleinhandelaars wat Karoo Lam direk aan verbruikers wil verkoop, moet sorg dat karkasse van geregistreerde plase korrek gerolmerk en geëtiketteer word as “Karoo GI”. Selfs by privaat slagtings is dit belangrik om duidelik te spesifiseer wanneer dit egte Karoo Lam is – dis hoe ons die waarde van die naam beskerm.



Die samewerking en entoesiasme vir die beskerming van Karoo Lam as iets eg Suid-Afrikaans is bemoedigend en voorspel ’n groot toekoms vir die Karoo-streek. Baie dankie vir elkeen se bydrae in 2025.


Ons wens al ons lede en hul families ’n geseënde Kerstyd en ’n voorspoedige nuwe jaar toe.

in News
Share this post
Labels