Lam-pilau

Contributed by
Margaret Hurter
BEELD/LEEFSTYL Stowevleis-wenner
Ek dink dit was 1973 en die Jaar van die Vrou. Ek het mev. O.R. Singh genooi as gasspreker om vir die dames by die Women's Institute te vertel hoe dit was om as 'n jong bruid by die groot skoonfamilie te kom bly. Destyds het die Indie?rmen- se in Natal nog geglo aan die uitgebreide families wat almal saam onder een dak bly.
Haar skoonmoeder het steeds geglo 'n mens sif nog deur die rys wat op 'n groot skinkbord uitgooi was, al was dit die nuwe "triple cleaned" Tastic-rys. Sy het die dis vir ons gedemonstreer en ek maak dit steeds.
Jy het nodig:
- 1 kg stowelamsvleis, in blokkies gesny
- 750 ml volroomsuurmelk
- 10 ml rissiepoeier
- 15 ml borrie
- 3 ml fyn saffraan
- 30 ml gemaalde vars gemmer en knoffelmengsel
- 15 ml fyn koljander
- 15 ml garam masala
- 4 groen rissies, ontpit en fyn gekap
- 125 ml kookolie
- 15 ml heel jeerasaad (komynsaad)
- 1 pypkaneelstokkie
- 2 uie, gekap
- 625 ml rys en 1 kaneelstokkie in water geweek en half gaar gekook
- 375 ml swart lensies en 5 ml borrie in water geweek en half gaar gekook
- 6 middelslag aartappels in groot blokkies gesny
- 10 ml sout
- 375 ml water of ligte hoenderaftreksel
So maak 'n mens:
- Meng die rissiepoeier, borrie, saffraan, gemmer, knoffel, koljander, garam masala en rissies saam. Vryf dit oor die vleis en plaas dit dan in 'n plat glasbak. Giet die suurmelk oor, bedek en laat minstens 'n uur lank marineer.
- Verhit olie en braai heel jeerasade, pypkaneelstokkie en uie. Voeg vleis en marinade by en roer goed deur. Voeg half gaar lensies en rys asook die aartappelblokkies, sout en water of aftreksel by.
- Bedek en prut stadig vir ongeveer 1 uur of tot gaar. Indien nodig, voeg 'n bietjie water by.
Karla se wenke: Pas die hoeveelheid rissie aan na gelang van jou gesin se smaak. Ek het die rissiepoeier heeltemal weggelaat en net twee vars rissies gebruik. Die gereg is nog lekkerder as jy dit saam met blatjang voorsit.
Foto: GERRIE JANSE VAN VUUREN